Illustration of Mermaid

Chanette Paul

Christelle Webb-Joubert


Onderhoud

Christelle Webb-Joubert se vrae aan Chanette Paul

SPRINGGETY is jou dertigste boek. Dis ‘n spanningsverhaal, maar ook liefdesverhaal?

Ek hoop ek het in Springgety reg gekry wat ek eintlik nog altyd wou doen. 
Om lig en swaar te kombineer en in mekaar te laat versmelt tot ʼn intelligente ontspanningsroman.  Let wel, intelligent en nie intellektueel nie.

Dis hoegenaamd nie ʼn literêre boek nie, maar dis ook nie heeltemal ʼn liggewig storie nie.

ʼn Mens kan die boek as liefdesverhaal lees, maar daar is ʼn paar dieper lae wat mens ook kan raaklees, onder meer ʼn bietjie sosiale kommentaar. 
Dis wat dit so moeilik gemaak het om die boek te skryf. 

Ek wou nie hê dit moet te veel na of die swaarder of die ligter kant toe oorhel nie. 

En dis baie moeilik om die balans te handhaaf – vra maar enige touloper.

Hoekom het jy besluit om die spanningsverhaal genre te betree?

Eintlik wou ek al lankal spanningsverhale skryf, en met Wip van die droomvanger het ek reeds my toon in die water gesteek, maar destyds was uitgewers baie lugtig vir die genre. Die spanningsverhaal en ander vorme van misdaadfiksie, is al van baie lankal al ʼn leesvoorkeur van my.

Omdat ek om den brode skryf, moet ek my steur aan wat uitgewers – en by implikasie lesers – wil hê.  Noudat misdaadfiksie Afrikaans egter soos ʼn vloedgolf getref het, is daar gelukkig ook plek vir die spanningsverhaal soos wat ek meeste daarvan hou en nog altyd wou skryf.

Die idee vir ʼn boek soos Springgety spook al lankal by my.  Ek het nou die dag gesien dat ek reeds my eerste aantekeninge in 2002 gemaak het. Ses jaar gelede!  Maar dit was eers in 2006, toe ek die Davel-reeks afgesluit het, dat ek die groen lig gekry het en werklik aan Springgety kon begin werk.

Wat was die grootste uitdagings?

  1. Slim lesers.
    Die tipiese leser van die spanningsverhaal, lees baie slim.  Dis glad nie maklik om hulle aan die raai te hou oor wie die skuldige is, sonder om haar te kul nie. 

    Die spanningsverhaal is eintlik ʼn spel tussen leser en skrywer.  Die een probeer die ander uitvang en uitoorlê.  Daar bestaan ʼn soort kontrak tussen skrywer en leser.  Die leser verwag van die skrywer om haar genoeg leidrade te gee om agter te kom wie die skuldige is, maar dit so goed as moontlik te versteek sodat sy eers teen die einde doodseker kan wees wie dit is.

    As die skrywer nie genoeg leidrade gee nie of inligting van die leser weerhou en eers teen die einde uitblaker, kul sy die leser omdat die leser dan nie ʼn regverdige kans gegun is nie.

    As die skrywer te veel leidrade of ʼn te duidelike spoor laat, bederf sy die leser se pret omdat dié dan te gou agterkom wie die misdaad gepleeg het.  En dit kan ʼn bitter klein dingetjie wees wat die game weggee.

    Boonop lees party lesers slimmer as ander.  Daar is lesers vir wie jy nie kan uitoorlê nie, die geheim is dan om haar genoegsaam te kan vermaak tot die einde toe al weet sy wie bloed aan die hande het.
  2. Nog ʼn uitdaging is om ook manlike lesers te kan vermaak.  Ek skryf by uitstek boeke vir vroue omdat ek vroue beter verstaan as mans.  Maar omdat ek agtergekom het dat sekere van my boeke ʼn hele paar manlike lesers ook aangestaan het, wou ek graag die net bietjie wyer span om meer manlike lesers te betrek.  Uit terugvoer wat ek gekry het, is daar weliswaar mans wat nie dood gesien wil word met ʼn Chanette Paul boek in hulle hande nie, maar daar is ook ʼn goeie klompie wat Springgety baie geniet het.
  3. ʼn Derde uitdaging was om nie my romanse-lesers heeltemal te vervreem nie.  Ek moes die moeilike besluit neem of ek romantiese liefde in Springgety wil betrek en of ek nader aan die werklikheid wou beweeg waar seks dikwels van romanse ontdaan is. Ek het aanvanklik probeer om ook hier die gulde middeweg te probeer volg, maar dit was nie heeltemal moontlik nie.  Die liefdestonele hel dus meer na die romantiese oor, maar omdat Lily en Ben nie jou tipiese romantiese held of heldin is nie, sien die liefde in Springgety tog heelwat anders daar uit as in ʼn gewone liefdesverhaal.

    En dan was daar ʼn klomp tegniese uitdagings waarmee ek nie die luisteaars wil verveel nie.  Ek kan maar net noem dat ek die eerste weergawe heeltemal oorgeskryf het. 

Hoe verskil die spanningsgenre van die ander?

Daar is ʼn magdom sub-genres van die misdaadroman.
Dis onmoontlik om presies te onderskei hoe elkeen lyk omdat die genres mekaar dikwels oorvleuel.  Veral deesdae – waar intertekstualiteit en ʼn post modernistiese aanslag hoogty vier.

Dis nie meer die goeie ou dae toe Agatha Christie se Miss Marple en Arthur Conan Doyle se Sherlock Holmes die genre gedefinieer het nie.

Op ʼn manier dink ek stig elke skrywer deesdae sy eie genre binne ʼn meer algemene genre.  Ian Rankin en Michael Connelly skryf byvoorbeeld min of meer dieselfde soort speurverhaal, maar doen dit geweldig verskillend.  In Afrikaans het Deon Meyer byvoorbeeld sy terrein op sy eie unieke manier afgebaken.

Maar as mens dan moet grense trek om verskillende genres, kan ʼn mens onderskeid maak tussen onder meer die speurverhaal oftewel mystery/detective novel en die spanningsverhaal oftewel suspense
Volgens so ʼn onderskeid skryf Deon byvoorbeeld speurverhale terwyl ek suspense  verhale skryf en nog meer spesifiek romantic suspense
In die tipiese speurverhaal is die hoofkarakter ʼn professionele of semi-professionele speurpersoon wat agter die misdadiger aan is.  Dis nie noodwendig ʼn polisiepersoon nie, maar iemand wat bevoeg is om die speurwerk te doen. Hy is in beheer, hy hou kop en dink logies.  Hy benader sy taak intellektueel.

In suspense  is die hoofkarakter iemand wat glad nie toegerus is vir die taak nie, maar nie ʼn ander keuse het as om as speurpersoon op te tree nie. 
Sy – ja, gewoonlik ʼn vroulike karakter - is tot ʼn mindere of meerdere mate ʼn slagoffer al is dit nie noodwendig die slagoffer van die misdaad self nie.  Sy word egter wel ten nouste deur die misdaad geraak en probeer eintlik net ʼn gevaarsituasie oorleef. 

In die speurverhaal het die leser minder inligting as die speurpersoon, in suspense  is dit andersom.  Daar weet die leser dikwels meer as die hoofkarakter.

In die suspense  gaan dit nie soseer oor die misdaad self nie, maar oor hoe die hoofkarakter die onmoontlike situasie waarin sy haar bevind, emosioneel beleef en oorleef, en as gevolg daarvan ʼn sterker en wyser mens word.
Daar is heelwat verskille, maar ek dink dit kom daarop neer dat die leser van die speurroman se bevrediging hoofsaaklik op intellektuele vlak lê terwyl die leser van die suspense  roman se bevrediging ook, en veral, op emosionele vlak lê.