Illustration of Mermaid

Chanette Paul

Foto: Annalize Mouton

Onderhoud

GeselsTYD: Chanette skryf 30ste boek deur Annemarie Marais    

Rapport 01/03/2008 12:50  - (SA)  

Ná slegs sowat dertien jaar as heeltydse skrywer kon Chanette Paul onlangs ’n glasie klink op die verskyning van haar dertigste boek. Dit is ’n merkwaardige prestasie in enigeen se boekie, maar van nou agteroor sit en in die niet staar … nee wat, dit is nie deel van haar woordeskat nie. Met Springgety, haar nuutste boek op die rak, slaan Chanette ’n ander rigting in as die merendeels liefdesverhale (of sogenaamde romanses) waarvoor sy veral bekendheid verwerf het. Dit is ’n romantiese spanningsverhaal wat ’n aanslag verg iewers tussen heel ligte en ernstige verhale.

“Eintlik was daar ’n voorloper,” vertel Chanette. “Ek het in 1999 reeds ’n spanningsroman geskryf met die titel Wip van die droomvanger. (Dit was ’n naaswenner van die ATKV-prosaprys). Maar die skryf van dié soort verhaal was vir my destyds té tydrowend en my romanses was in aanvraag. Ek het besluit om pap te skep waar dit die meeste pap reën.

“Die suspense-roman was egter nog altyd een van my gunsteling-leesgenres en ek het geweet eendag is eendag. Ek voel my nou ook beter toegerus vir hierdie baie moeilike soort storie, hierdie spanning-ter-wille-van-ontspanning-storiestyl.”

Hoewel sy dit ook baie geniet het om ’n ernstiger boek soos Leila word lig (2006) te skryf, voel sy dit druis in “teen my optimistiese persoonlikheid en dat ander skrywers baie beter wroeg as ek!”.

Vir Chanette was die uitdaging voorts om te skryf “oor vroue wat nie heldinne is nie, maar hulle in ’n situasie bevind waarvoor hulle nie toegerus is nie, en dan leer hoe sterk hulle eintlik is.”

En of spanningsverhaal die juiste woord is, is sy nog nie so seker van nie. “Dalk is dit ’n raaiselroman? Waarvoor daar wel ’n term is, is die spanningsromanse; ’n romanse met ’n suspense-geurtjie, terwyl Springgety ’n suspense-verhaal met ’n romantiese geurtjie is.”

Soos die hoofkarakter in dié boek moes Chanette ook op haar eie bene leer staan ná ’n egskeiding en ander struikelblokke op haar lewenspad.

“Ja, ’n mens verklap maar iets wanneer jy skryf. Nie noodwendig gebeure wat jy ervaar het nie, maar hoe jy dit ervaar het. Die manier waarop jy emosies, tragedies, vreugdes beleef en verwerk, word alles deel van die alchemistiese konkoksie waaruit jou storie ontgin word. Dis egter nie ’n doelbewuste ding nie. Ek delf nie in my siel rond na lewenswaarhede of beswaardhede nie, my karakters ontdek bloot goed wat in my onderbewussyn lê. Soms is dit nogal skrikwekkend, maar ek wroeg nie.” Buiten haar eie pennevrugte help sy ook ander skrywers om hul stemme te vind in die romantiese genre.

“Dit is ’n genre wat my fassineer. Die relatiewe rigiditeit daarvan, en die sielkunde agter die lees sowel as skryf van die verhale.”

Sy wou ook onder meer weet hoekom lesers aan skrywers wil voorskryf wat hulle wil lees én hoekom skrywers bereid is om aan dié eise te voldoen. Dit het gelei tot heelwat navorsing oor romantiese fiksie.

“Met ’n (beskeie) akademiese letterkunde-agtergrond en die feit dat ek self romanses geskryf het, het ek ’n baie goeie verwysingsraamwerk om te kan sê of ’n romantiese verhaal werk of nie, en ook oor hoe om reg te maak wat nie werk nie. En dis wat ek doen. Eers help ek die skrywers wat na my verwys word om te begryp wat die leser wil hê en waarom, en dan probeer ek hulle help om dit in hul stories toe te pas.”

En kort en kragtig verklaar Chanette ook dat die kenmerk wat ’n goeie skrywer van ’n gemiddelde een onderskei, harde werk is en basta. Sy is een van die min skrywers hier te lande wat om den brode skryf. “Wanneer mens jou eie potjie moet leer krap op middeljarige ouderdom, kom jy agter dat nood nie net leer bid nie, maar ook leer planne maak. Om ’n bestaan uit skryfwerk te maak, is senutergend en dis maar ’n beskeie bestaan, maar die geheim lê daarin om tevrede te wees met wat jy kán bekostig sodat jy kan doen wat jou die naaste aan die hart lê.” Dit is volgens Chanette egter hoog tyd dat die stigma wat aan ontspanningslektuur kleef, eens en vir altyd die nek ingeslaan word. “ ’n Mens mag, nee, móét vir die lekker ook lees. Die hele debakel tussen literati en sogenaamde populiste is eintlik belaglik. Daar is ’n plekkie in die son vir elke soort boek solank lesers dit geniet.

“Ons het wonderlike literêre skrywers en werke, maar in die ontspanningsgenre gaan dit maar hotagter. Dit ontbreek nie soseer aan boeke nie, maar aan genre-verskeidenheid en -trefsekerheid. Die skrywers is sku, want enigiets wat nie literêr is nie, word as ‘swak’ afgemaak. En dan probeer hulle ontspanningsverhale verliterêr en al wat mens kry, is ’n afgewaterde weergawe van ’n storie wat nie is wat dit eintlik wil wees nie. En die lesers? Hulle verlustig hulle maar in Engelse boeke.” Maar nie solank Chanette haar byltjie slyp in die mooie dorp Stanford naby Hermanus nie.

“In Augustus 2002, ná ’n verwonderde reis verby wasige berge en geel canola-lande, het Stanford my ontdek. Ek het ’n erf gekoop wat ek eintlik nie kon bekostig nie en was eienaar-bouer van my eie huis, wat ek Hebban Nestas noem. Hier op die oewer van die Kleinerivier in die Overberg het ek eindelik ’n holte vir my nomadiese voet gevind.” * Springgety, LAPA-uitgewers, R150.