Illustration of Mermaid

Chanette Paul se Biografie

Chanette Paul is in Johannesburg gebore in die jare toe vroulief nog voorskoot gedra het, maar word rond en bont en voorskootloos groot.  Sy woon nege skole by, studeer aan vyf universiteite en het al in sewe provinsies gebly. 
Haar eerste verhaal waarvoor sy betaling ontvang, is ʼn sprokie wat sy op sestienjarige ouderdom geskryf het en op Siembamba voorgelees is.  Die tweede, ʼn kortverhaal, skryf sy in haar matriekjaar en dié verskyn in haar universiteitsjare in Huisgenoot Terwyl sy ʼn loopbaan in die klerebedryf volg, verwerf sy in 1988 ʼn Meestergraad in Afrikaanse en Nederlandse Letterkunde aan die destydse RAU.  Die Simon Wainstein prys word aan haar toegeken vir haar skripsie. 
Eers in 1995, nadat sy die klerebedryf vaarwel toegeroep het, gee sy weer aandag aan haar skryfwerk. Sedertdien het 32 boeke, omnibusse en bundel uitgesluit, asook ʼn verskeidenheid verhale en humorartikels in tydskrifte, verskyn.

Vir haar debuutromanse ontvang sy in 1996 Perskor se prys vir beste romantiese fiksie.  In 1999 is Wip van die droomvanger op die kortlys vir die ATKV-Prosaprys. In 2003 voltooi sy, danksy ʼn beurs van Human & Rousseau, ʼn Meestersgraad in Skeppende Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van prof. Etienne van Heerden.  Leila word lig is die gevolg van hierdie mentorskap en dié haal ook die kortlys vir die ATKV-Prosaprys in 2006.
Sedert 2002 doen sy manuskripontwikkeling vir Lapa Uitgewers en bied ook werkswinkels namens hulle aan.  Sy beywer haar vir die de-stigmatisering van Afrikaanse ontspanningsfiksie en die voortbestaan van Afrikaans. In haar 15-jaar lange skrywersloopbaan, eksperimenteer Chanette met ʼn hele aantal genres terwyl sy die pot aan die kook hou met haar romanses.

In 2007 betree sy egter ʼn nuwe skryffase met haar spanningsromans - oftewel haar interpretasie van die genre - en vind haar ware nis.  Springgety verskyn in November 2007, word in Oktober 2008 met Fortuin opgevolg en in Julie 2009 verskyn die derde in die reeks, naamlik Boheem.
ʼn Vierde spanningsroman waarin Gys Niemand, die bles speurder met sy boep en sy eie manier van dinge doen, weer ʼn sekondêre maar belangrike rol speel, is op pad in Oktober 2010.  Die titel is Meetsnoer.
Chanette beoog om uiteindelik vyf boeke te skryf wat in die Niemandsdorp-omgewing afspeel en om Gys en konstabel Fortuin se stories in die loop daarvan te vertel.  Die legende van Kruisbaai se visvrou wat ʼn deurlopende tema vorm, sal dan ook in die vyfde boek afgerond word.
Chanette woon in ʼn pophuis op die oewer van die Kleine Rivier in die Overberg saam met haar katte en haar bure se honde.  Naweke kom sleep Blom ook bekend as Ernie Blommaert haar voor die rekenaar weg.  Sy is ʼn onkundige maar ywerige tuinier, ʼn leesvraat en musiekliefhebber.  Sy is gek oor die rivierlewe - veral om handlanger te speel op die pontonboot wat Blom bedryf.  Sy geniet dit ook om te kajak, walvisse dop te hou en alikreukels te gaan uithaal by ʼn spesiale plek naby Gansbaai wat sy haar meerminpoel noem.
Sy is lid van International Thriller Writers en die Afrikaanse redakteur van Crime Beat. Lees van haar bydraes by Crime Beat Afrikaans.

Lees meer oor Chanette op LitNet se Sanlam-ATKV Afrikaanse Album saamgestel deur NALN: Chanette Paul