Illustration of Mermaid

BOHEEM deur Chanette Paul

Titel: Boheem
Taal: Afrikaans
Kategorie: Spanningsroman
Skrywer: Chanette Paul
Aantal bladsye: 586
ISBN: 978 0 7993 4464 6
Verskyningsdatum: Julie 2009
Uitgewer:  Lapa Uitgewers

Boheem is die derde spanningsroman uit Chanette Paul se pen en haar 32ste boek. Nog ʼn moord word in die Niemandsdorp omgewing gepleeg, dié keer in die kunstenaarskolonie, Bohemia.
Op die dag van haar egskeiding, ontdek Katrien Bresselaar haar man se verminkte liggaam onder verdagte omstandighede. Sy word voor die reg vrygespreek van die moord, maar niemand dink sy was onskuldig nie.
Toe sy dus drie jaar later by die kunstenaarskolonie, Bohemia, aankom en vir die tweede keer in haar lewe op die liggaam van ʼn vermoorde afkom, is daar baie vingers wat na haar wys. As sy immers een keer die sneller kon trek en daarmee kon wegkom, sal sy seker nie skroom om weer te moor nie?
Nie dat Katrien, nou bekend as Kayla Cilliers, by Rose-Anne Lockwood se dood sou baat nie. Dié befaamde moordverhaalskrywer is juis haar mentor. Maar dis Kayla wat die lyk ontdek en dis haar vingerafdruk op die moordwapen.
’n Rustige hawe vir kunstenaars is Bohemia allermins. Anne Lockwood haar met ? klomp kreatiewe mankes omring en so ? prutpot
Onder die oppervlak sied dit dan ook.
Judy maak engele van klei en hoor stemme van die Anderkant;
Lente is ʼn briljante harpspeler, maar word opgevreet deur jaloesie;
Seth die beeldhouer sien Bybelse figure in klip en Gesie, sy vrou, bak kunstige troukoeke, maar sien in die toekoms;
Alwyn, die skilder is sy muse kwyt;
Hendrik en Leen,ʼn bekende keramiekkunstenaar-duo, se huwelik is dalk nie so rotsvas as wat hulle voorgee nie.
Hooghartige Justin behartig die kroeg en restaurant saam met snobistiese Bonnie, sy broer se gewese meisie ...
En Mitch Lockwood, ʼn smeewerkkunstenaar en metallurg, moet by sy suster oorneem en alles bymekaar hou.
Gys Niemand en Fortuintjie, Niemandsdorp se beste speurspan wat die skuldiges in Springgety en Fortuin aan die pen laat ry het, kan maar net toekyk, want hulle mag nie betrokke raak nie.
Totdat Gys besluit om verlof te neem en Vrystaat toe te gaan om Katrien Bresselaar alias Kayla Cilliers, finaal aan die pen te laat ry.

Die volgende Gys-boek wat in Springgety, Fortuin en Boheem se voetspore volg, is Meetsnoer en verskyn in Oktober 2010. Chanette skryf reeds aan die vyfde en laaste boek in die reeks. Hierin word Gys Niemand se storie afgesluit en die geheim agter die legende van die visvrou van Kruisbaai, ontrafel.