Tamara deur Chanette Paul
Willemien deur Chanette Paul
Annabella deur Chanette Paul
Deborah deur Chanette Paul
Isabelle deur Chanette Paul
Maryn deur Chanette Paul
Fleur deur Chanette Paul
Die Davel-reeks deur Chanette Paul
Slegte nuus:
Die Davel-reeks is uitverkoop en tans nie beskikbaar nie.
Goeie nuus:
Daar is sprake dat die boeke weer beskikbaar gestel sal word, moontlik as e-boeke. Chanette hoor graag hoe lesers hieroor voel.
E-pos jou opinie hier.
Die Davelvroue-sage bestaan uit sewe boeke, naamlik Tamara, Willemien, Annabella, Deborah, Isabelle, Maryn en Fleur.
Chanette Paul oor die Davel-reeks
Tamara Davel is die eerste hardkoppige en eiesinnige Davel-vrou wie se wel en weë ek saam met haar gevolg het. Sy word die stammoeder in die res van die reeks as moeder van Annabella, Deborah, Maryn en Christiaan en as tante van Willemien wat weer die ma word van Isabelle.
Toe ek Tamara begin skryf het, sou ek nooit kon droom dat dit die eerste van sewe sou wees nie. Om die waarheid te sê, het ek amper ook nie vir Tamara geskryf nie.
In 1999 het my uitgewer my gevra om ’n historiese romanse te skryf ter herdenking van die eeufeesviering van die Anglo-Boereoorlog. My eerste reaksie was o, genade, nee toggie. My matriekgeskiedenis het ver in die verlede gelê. Ek kon my ook nie indink dat die vae beelde wat ek gehad het van omies met bandoliers oor hulle boepense en skeefgetrapte velskoene aan hul voete, vreeslik passievol kon raak oor die uitgedyde tantes wat vroom onder kappies uitgeloer het nie.
Tog het ek na baie gewroeg en bloedsweet oor die opdrag besef dat dit eintlik ʼn heerlike uitdaging is. Ek het ook besef dat die mense destyds nie net afbeeldings op dowwe sepia foto’s was nie, maar mense wat asem gehaal het soos ons, en liefgekry het soos ons. Op ʼn dag het ek Tamara Davel net voor my sien staan met haar lang blonde hare en vurige blou oë. Die gevolg was ʼn boek met die naam van Bittersoet Wals.
In 2005, amper ses jaar nadat Bittersoet Wals die lig gesien het, het Lapa Uitgewers my genader om die boek weer uit te gee. Ek was natuurlik in my noppies - totdat hulle bygevoeg het hulle wil ook ʼn opvolg hê. Dit was nou weer vir my ʼn nuwe uitdaging en ek het dadelik aan Mientjie gedink, Tamara se niggietjie wat saam met haar in die konsentrasiekamp beland het.
Ek was besig om aan Mientjie, wat intussen natuurlik groot en Willemien geword het, se verhaal te werk toe ek begin wonder het wat van Annabella en Deborah, dis nou Tamara se dogters, gaan word. En natuurlik Ryk Ruben Gould se seuns wat deur Willemien opgepas word. In ʼn oomblik van waansin noem ek toe vir my uitgewer dat ek so wonder oor die kinders en toe sê sy vir my: Maar vind uit.
Die gevolg was Annabella en Deborah en terwyl ek so aan Deborah skryf toe wonder ek oor Willemien daar in die vreemde Ierland en wat van haar dogter Isabelle sou geword het.
Intussen het Annabella en Deborah ook ʼn tweeling boetie en sussie ryker geword en toe wonder ek nog verder oor hulle ook.
Die uiteinde van die saak is hierdie sewe boeke oor die sewe eiesinnige Davel-vrouens.
Die laaste ses boeke het ek in een jaar (2005/2006) geskryf. Ek het Davels geëet, gedrink, gedroom, ge-alles. En begin huil toe ek Fleur, die laaste in die reeks, na my uitgewer toe gestuur het.
Die sewe sakke sout wat ek saam met die Davels van Bergendal opgeëet het, was een van my lekkerste skryfervarings.
Ek het die boeke so probeer skryf dat elkeen op hul eie kan staan en buite volgorde geniet kan word. In die laaste twee boeke het ons dan ook ʼn geslagsregister bygevoeg om die taak te vergemaklik. Ek dink egter dat dit tog meer leesplesier bied as die reeks wel in volgorde gelees word, of ten minste Tamara eerste en Fleur laaste.
Tamara
Tamara speel af tydens die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902). Wat gebeur as twee mense wat grootgemaak is om te glo dat hulle broer en suster is, mekaar liefkry en teen die agtergrond van die chaos van oorlog moet probeer uitvind hoe sake inmekaar steek?
Tamara word in die daaropvolgende boeke die matriarg wat steeds ʼn rol speel in die lewens van die Davel-nageslag.
Willemien
Willemien speel af in 1909. Sy is Tamara se broerskind en die taalstryd speel ʼn sterk rol. Wat gebeur as ’n konsentrasiekampkind wie se hele familie feitlik deur die Engelse uitgewis is, verlief raak op ’n Ier? En as sy boonop ’n stryder vir die taal is en haar liefde vir die man verg dat sy Ierland toe moet trek?
Annabella
Annabella, Tamara se oudste dogter, is ʼn begaafde tjellis in 1922/1923. Die tema is die verkryging van vrouestemreg. Wat gebeur as ’n vrou twee groot passies in haar lewe het (stemreg vir vroue en haar musiekstudies) én sy moet boonop kies tussen twee uiteenlopende mans? Die een kan die saak van vrouestemreg bevorder en die ander een is ’n briljante violis wat haar hart in die holte van sy hand hou, maar vrede het met vroueregte. En dan is hy nog boonop ʼn uitlander van onsekere afkoms.
Deborah
Deborah, Tamara se middelste dogter - buitengewoon intelligent en ietwat van ʼn wildewragtig - wil met alle geweld ʼn argeoloog word. Hoe kry ʼn vrou dit in 1923/1924 reg om haar op dié terrein te begeef wat uitsluitlik vir mans uitgesonder is? En wat gemaak as sy vermoed dat die man wat sy liefkry, argeologiese skatte steel en verkwansel vir eie gewin?
Isabelle
Isabelle is Willemien se dogter. In 1932 is Isabelle ʼn opstêrs Ierse gravinnetjie met ʼn passie vir skilder. Maar sy voel die verantwoordelikheid van haar gravinskap swaar op haar rus, veral toe sy besef dat haar titel bepaal met wie sy mag trou. En des te meer toe sy verlief raak op ʼn bywoner, wat klei op hul plaas in Suid-Afrika uithaal.
Maryn
Maryn, Tamara se jongste en mees bedeesde dogter. In 1933 is sy reeds ʼn oujongnooi en nie veel meer as ʼn konfytkokertjie in die oë van die eienaar van die laventelplaas La Lavende nie. Maar in ʼn tydvak waar die Depressie oral voelbaar is, moet sy help om Bergendal vir die Davels te red uit die kloue van die einste laventelman wat agter hulle lemoenboorde se bloeisels aan is – selfs al is hy die man wat haar bedwelm met sy kerslelie oë.
Fleur
Fleur is nie ʼn Davel nie, maar ʼn Malherbe met suiwer Hugenotebloed in haar are. In 1938, toe daar ʼn geweldige wynoorskot was, erf sy ʼn verwaarloosde wynplaas en ʼn groot hoop skuld van haar pa. Sy weet min van wynmaak en niks van wingerde nie. En dan kom Christiaan Davel (Tamara se seun) in die vallei aan. Hy weet alles van wingerde en wyn af en laat haar hart skoon op galop gaan, maar hy is ʼn Transvaler en boonop lief vir iemand anders.
In Fleur word al die drade van die karakters in die Davel-reeks bymekaar getrek.
Verkorte weergawe van ʼn brief van die taalversorger aan die uitgewer, oor die eerste vier boeke van die Davel-reeks.
8 Maart 2006
“Ek is deur Tamara, en was mal daaroor, deur Willemien, dieselfde, Annabella, nog maller … en nou Deborah. En nou weet ek opnuut wat ‘n storie maak dat hy uitstaan bo die ander, die skrywer onderskei – nie boekekennis nie, nie grade nie, nie professorate nie, maar deernis met mense, ‘n meelewendheid met mense, ‘n lekker sin vir humor, selfs al is die situasie ernstig. ‘n Warmte, ‘n deurleefdheid. En ‘n bewus wees van magic. Die magic tussen mense, in die klein goedjies, in mannerismes, ag, ag, ag … ek sukkel om dit onder woorde te bring.


