Illustration of Mermaid

Fortuin deur Chanette Paul

Titel: Fortuin
Taal: Afrikaans
Skrywer: Chanette Paul
Aantal bladsye: 520
ISBN: 978-0-7993-4242-0
Kategorie: Spanningsroman
Verskyningsdatum: Oktober 2008
Uitgewer:  Lapa Uitgewers

Fortuin is Chanette Paul se tweede spanningsroman in die Gys-Niemand-reeks. Reeds met Springgety wat in Oktober 2007 verskyn het, begin sy om ’n belangrike leemte in die spanningsgenre te vul. Met Fortuin voer sy haar ontdekkingsreis verder. 

Is Eva van Eden ’n heks of ’n engel, Paradyskloof die voorpoorte van die hemel of ’n onheilsnes? Dis wat joernalis, Xanthe Tredoux, moet gaan uitvind in opdrag van Tuisfront se redakteur. Waarom hy háár stuur, is vir haar duister, want hy weet sy het die kluts vyf jaar gelede kwyt geraak en dit nog nie weer gevind nie.

Selfs voordat sy na die afgesonderde landgoed in die berge vlieg, loop dinge skeef, maar toe Xanthe in Paradyskloof aankom besef sy dat sy hier met ’n heel ander werklikheid te doen het. Die hele opset met sy meer, kasteelagtige herehuis, tematuine en labirint is surreëel. Die mense wat sy ontmoet, is net so vreemd as die omgewing. Die grootste skok is egter dat Eva van Eden, die vrou wat sy as bedrieër moet ontmasker, allermins soos een lyk.

Xanthe wil graag glo dat Eva opreg is, maar dis moeilik – veral wanneer een van die gaste dood aangetref word in die Heilige Tuin. En dit raak steeds moeiliker wanneer dit begin lyk asof Xanthe ook in die visier is van die een wat die dood se septer op Paradyskloof swaai.

Fortuin het vele kinkels en draaie. Die leser kou naels, maar word ook op emosionele en spirituele vlak betrek. Die waaghalsige tema, kan moontlik tonge laat klap.

Fortuin is die tweede boek wat in die Niemandsdorp-omgewing afspeel en Gys Niemand en Faantjie Fortuin doen weer die speurwerk.  Die derde, Boheem, het in Julie 2009 gevolg en die verde sal in Oktober 2010 op die rak wees.
Chanette is reeds besig met die beplanning van die vyfde en laaste Gys-boek.  Gys se storie asook die legende van die visvrou van Kruisbaai, sal hierin afgesluit word.