Illustration of Mermaid

Chanette Paul

Jaybee Roux

Onderhoud

Jaybee Roux in gesprek met Chanette Paul

Jy was baie gewild as romanseskrywer - jou romanses word steeds wyd gelees en twee daarvan is onlangs in een band heruitgegee. Wat het jou laat besluit om romanses vir "suspense" te verruil? Kry jy soms lus om weer 'n romanse te skryf?

Dis net nou en dan dat ek weer so 'n krieweling kry wanneer 'n saadjie val waar ek weet dit tot 'n romanse kan ontkiem, maar soos sake nou staan, is die kanse skraal dat ek binne afsienbare tyd weer een sal skryf.

Soms wonder ek egter hoekom ek dit ooit in my kop gekry het om die brug oor te steek. My romanses het goed verkoop; die omnibusse, asook die duet waarna jy verwys, het baie goed gevaar, en my naam is een keer selfs in dieselfde asem as Ena Murray s'n genoem. ;-) Ek het dit boonop werklik geniet om romanses te skryf, en as ek dan 'n verandering móés maak, waarom dan nie eerder die meer verwikkelde liefdesroman (romantic novel) aanpak nie?

Finansieel sou dit my moontlik baie beter gebaat het om by romanses te hou. Ek kan minstens drie romanses skryf in die tyd wat dit neem om een suspense roman te skryf en dié kan weer mettertyd omnibusse word. Maar ek glo dat mens na jou binnestem moet luister, hoe skrikwekkend die boodskap soms ook al is.

Die gevoel dat ek bedoel is om suspense te skryf, kom nou al langer as 'n dekade saam met my - deels, dink ek, omdat suspense nog maar altyd 'n leesvoorkeur by my was. Ek het dan ook reeds in 1998 Wip van die droomvanger geskryf, maar moes weer terugval op die romanses toe Maskew Miller Longman vir Perskor/Kagiso oorgeneem en die Afrikaanse fiksie-afdeling toegemaak het.

'n Hele paar jaar gelede het ek my daaropvolgende uitgewer gepols oor die moontlikheid om suspense te skryf, maar dit was voor Deon Meyer nog die ikoon was wat hy intussen geword het, en daar was die persepsie dat Afrikaanse misdaadfiksie nie goed verkoop nie.

Op die keper beskou was dit egter 'n goeie ding dat ek nie toe al begin het met suspense romans nie. Ek dink nie ek was toe gereed om die genre tot sy reg te laat kom nie. Ek het intussen baie leerkurwes deurgemaak wat my skryfwerk geslyp het. Onder meer was daar Leila word lig, wat ek onder leiding van Etienne van Heerden geskryf het, maar ook die Davel-reeks (sewe historiese romanses) wat my geleer het om onder druk navorsing te doen en effens meer verwikkelde romanses te skryf. Toe ek egter met die laaste Daveltjie klaar was, het ek, met my huidige uitgewer se huiwerige toestemming, besluit om gehoor te gee aan Lily Reynecke, my hoofkarakter in Springgety, se knaende geklop aan my deur. Min wetende dat ek voor die grootste leerkurwe in my loopbaan te staan gekom het.

Was die "oorgang" van die een genre na die ander baie moeilik? Hoekom is die skryf van "suspense" moeiliker as die skryf van romanses, indien wel?

Die oorgang was ongelooflik moeilik. Die brug blyk toe 'n gevaarlike, hangende een oor 'n krokodilvervuilde rivier te wees - of so het dit gevoel. Enersyds was ek amper té gekonfyt in romantiese fiksie. Andersyds het ek die genre onderskat. Die grootste probleem was egter die verskil wat lengte aan die werkinge en dinamika van 'n storie maak. Dis amper soos om skielik 'n enorme vragmotor met iets soos sewentien ratte te bestuur terwyl jy aan 'n Golfie met 'n vyfspoed-ratkas gewoond was.

In die romanse lê die spanningslyn hoofsaaklik op die vlak van die ontwikkelende liefdesverhouding. In suspense lê dit op vele eksterne en inherente vlakke. Dis nie net die wie-het-dit-gedoen-lyn nie. Suspense gaan ook oor emosies en karakterontwikkeling. En dan is daar nog die liefdeslyn wat baie meer verwikkeld is as in die romanse. Dis nou benewens die uitdaging om die leser dwarsdeur die storie te laat naels kou.

. Die meer tegniese sy het ook vir my probleme opgelewer, onder meer wat perspektief betref. In die romanse word net die heldin se perspektief gebruik en by uitsondering die held s'n. In Springgety het ek aanvanklik ook net Lily se perspektief gebruik. Uiteindelik moes ek egter die hele boek oorskryf en ook Gys se perspektief inspan om die storie tot sy reg te laat kom. Wat beteken het dat my navorsing verdriedubbel het, aangesien ek moes agterkom hoe speursake en verwante dinge werk, maar daarbenewens moes ek ook probeer om in die kop van 'n man in sy vyftigs te kom.

n Fortuin het ek amper oorkompenseer deur iets soos vyf karakters se perspektiewe te gebruik. Dit was vir my nuwe vaarwaters. Ek het boonop 'n redelik waaghalsige tema gebruik wat ek met groot omsigtigheid moes benader sonder om die impak daarvan op die storie te verminder.

In Boheem voel ek dat ek die tegniese sy van die saak onder die knie gekry het en ek het ook baie makliker (met die klem op die -er) daaraan geskryf as die ander twee.

Tans is ek besig met die vierde in die reeks en sukkel van vooraf, onder meer omdat ek my hand weer eens waag aan 'n tema wat binne ons tydsgees riskant is. Maar voorlopig gaan dit relatief oukeierig met Meetsnoer. Algaande leert men.

Ontspanningslektuur word dikwels skeef aangekyk in die "literêre establishment", maar spanningsverhaalskrywers geniet 'n bietjie meer aansien as liefdesverhaalskrywers. Stem jy saam, en indien wel, hoe voel jy hieroor? Voel jy jy kry nou meer erkenning as voorheen? (Jou spanningsverhale word darem in die pers geresenseer; dit gebeur feitlik nooit met liefdesverhale nie.)

Moontlik omdat ek suspense romans skryf en nie wrede-werklikheid-speurverhale nie, is die verskil in persblootstelling en erkenning tot dusver marginaal. Dit het miskien ook daarmee te doen dat ek my spanningsverhale nie onder 'n skuilnaam skryf nie en die etiket van romanseskrywer nog stewig om my nek sit. Daar is bitter min resensies. As ek reg onthou, was daar net een oor Springgety (Beeld) en twee oor Fortuin (Volksblad en LitNet).

My boeke gaan boekebladredakteurs grotendeels verby en dit geld sowel koerante as tydskrifte. Miskien sien resensente nie kans om die dikker goed te lees nie! (Jy is klaarblyklik die een wat tot dusver dapper genoeg was.) Of miskien is dit omdat suspense tiperend ook 'n redelik sterk liefdeselement het. En dit lyk my romantiese liefde, hoe verwikkeld ook al, word as kômmin beskou. Wat natuurlik enigiemand se goeie reg is, nes dit my reg is om te dink seks-ter-wille-van-seks is kômmin.

Daar is bepaalde verskille tussen "suspense" (wat spesifiek op die vrouemark gerig is) en "gewone" spanningsverhale. Is Afrikaanse lesers bewus van die onderskeid tussen die onderskeie genres, of is daar nog baie onkunde?

Daar is nog baie onkunde. Ek kry die idee sommige mense dink ek probeer speurverhale skryf maar kry dit nie reg nie. Glo my, die laaste ding wat ek wil skryf, is 'n bloedlustige, aksiebelaaide speurverhaal. Ek is nie in my alledaagse lewe goed met die wrede werklikheid nie en sal dus nooit daaroor durf skryf nie. My boeke is meer op emosie as geweld afgestem en is eerder karakter- as gebeure-gedrewe. Dis hoe ek wíl skryf.

Internasionaal is suspense 'n erkende en baie gewilde genre. Sandra Brown het byvoorbeeld al ver oor die 80 miljoen boeke verkoop en is verlede jaar deur International Thriller Writers (ITW) vereer vir haar werk, terwyl ITW se lede groot name insluit soos Lee Child en 'n magdom ander speurverhaalskrywers. Terloops, Stephen King verwys na Brown se werk as "suspense with teeth" - en interessantheidshalwe, Brown het ook as romanseskrywer begin. In Suid-Afrika is ons lesers nog net nie aan die suspense-genre blootgestel nie. Nie in Afrikaans nie, in elk geval.

Net na aanleiding van jou verwysing na die lesersgeslag: alhoewel my spanningsromans inderdaad hoofsaaklik op die vroulike leser gerig is, kry ek baie goeie terugvoer van 'n toenemende aantal manlike lesers ook. Miskien is dit mans met meer romantiese siele as die gemiddelde man, maar een van hulle het erken hy was mal oor Springgety omdat Lily vir hom so sexy was.

Jy is tans die enigste skrywer wat haar toelê op die skryf van "suspense" in Afrikaans. Dink jy daar is ruimte vir nog sulke skrywers in Afrikaans?

Beslis. Dis 'n wonderlike genre en ek glo dit sal in gewildheid groei sodra lesers begin agterkom wat die dinamika agter die genre is. Die groot lekkerte is dat 'n mens soveel vlees daaraan kan gee as wat jy wil en steeds 'n "feel good"-boek kan skryf. En ek hou daarvan dat mens ware spanning kan opbou met die minimum testosteroon, bloed en derms.

Daar is nog baie leemtes in die Afrikaanse ontspanningsliteratuur. Volwaardige liefdesromans en suspense romans is twee daarvan.

Boheem, wat onlangs vrygestel is, speel hom af in 'n afgesonderde kunstenaarsgemeenskappie. Hoe voel jy oor die term "kunstenaar"? Beskou jy jouself as een? Is skryf ook 'n kuns - of bloot 'n ambag? Glo jy kunstenaars móét "wroeg" om tydlose, gehaltewerk te kan lewer?

Ek kan my nie uitgee as 'n kenner van kunstenaars nie, maar ek weet kunstenaars is geweldig sensitief en broei van nature. Ek kon nog nooit uitwerk of hulle sensitief is omdat hulle kunstenaars is en of hulle kunstenaars is omdat hulle sensitief nie. Wat ek ook weet, is dat hulle geweldig interessante mense is en dinge anders sien as gewone sterwelinge. Ware kunstenaars is vir my die siel, of dalk die gewete, van die mensdom.

My pa was 'n skilder - 'n onsuksesvolle een as mens sukses met geld en roem vereenselwig - maar hy was in sy diepste wese 'n kunstenaar. Hy het my onder meer laat raaksien dat 'n kremetartboom nie grys is nie, maar pienk, en dat groen soms blou en soms swart is. Ook dat dit wat mens sien, nie altyd daar is nie en dit wat daar is, nie altyd sigbaar of ooglopend nie.

In Boheem het ek so onderlangs laat probeer blyk hoe kunstenaars anders is, maar ook dat hulle nie baat by uitgerekte isolasie of 'n "ag siestog"-benadering nie. Dat hulle hul talent moet waardig wees. Dat hulle verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar dat hulle, ondanks hulle kunstenaarskap, steeds die ondermaanse bewandel.

Daar is by my geen twyfel dat skryf 'n kunsvorm is nie, maar terselfdertyd glo ek ook dis 'n ambag in die sin dat dit, soos enige kunsvorm, vakkundigheid behels. En ja, ek glo tydlose literêre werke verg 'n gewroeg.

Ek beskou myself egter nie as 'n kunstenaar nie; ek is crafter eerder as artist. Ek glo dis beter om 'n uitnemende crafter te wees eerder as 'n middelmatige of swak artist. Ek is nie in die wieg gelê vir literêre werke (of 'n gewroeg) nie, maar ek kan na die beste van my vermoë probeer sorg dat ek gehalte kommersiële werk lewer.

En dit is 'n kuns op sigself.

Speel navorsing 'n groot rol in jou "suspense"-verhale? Moet daar 'n fyn balans wees tussen navorsing en verbeelding, of mag die een die ander oorskadu?

Daar is 'n gesegde dat die skrywer nie feite in die pad van die storie moet laat staan nie. Ek onderskryf dit, maar ek glo mens moet die feite kén voordat jy dit kan verdraai, en dit dan ook doen net as dit werklik funksioneel is.

Navorsing is 'n ontsaglik belangrike (en tydrowende) taak. Ek bestee amper meer tyd aan navorsing as aan die aanvanklike skryf (first draft) van die verhaal, en die kanse is altyd goed dat mens steeds blapse maak. Vir my is dit egter die belangrikste dat alles in my storie binne die konteks geloofwaardig moet wees. As 'n kenner 'n paar foute kan uitwys, leer jy daaruit, maar solank jy jou teikenleser oortuig, voel ek bereik jy jou doel. "Suspension of disbelief" moenie te ver gedryf word nie, maar dis tog 'n groot deel van die kontrak tussen leser en skrywer. Hoe anders sal mens ooit Tolkien se boeke kan geniet?

As leser is dit vir my besonder irriterend as navorsing se onderrok te ver uithang. Wanneer ek fiksie lees, lees ek agter die storie aan. As die storie my oor iets inlig of opvoed, is dit gaaf, maar dit moenie die storielyn, die narrative pull, onderbreek nie

As leser het ek 'n kleintjie dood aan ellelange beskrywings van sekere prosesse of besonderhede oor goed soos vuurwapens of wat ook al. As daar vingerafdrukke was, is dit al wat ek wil weet. Ek wil nie weet presies hoe vingerafdrukke geneem en geprosesseer word nie. As 'n pistool kan skiet, moet hy skiet en klaarkry. Ek wil weet wat met die slagoffer gebeur, nie hoeveel soorte pistole en koeëls daar is nie - tensy dit funksioneel is en tot die storie self bydra.

As skrywer moet ek egter weet hoe die vingerafdrukproses werk en watter koeël uit watter pistool met hoeveel trefsnelheid die slagoffer in die nekslagaar getref het. Ek moet weet hoe die wond en die liggaam sal lyk om 'n geloofwaardige prentjie daarvan te kan skilder en hoe dit die speurder leidrade kan gee om die moord op te los.

Om op te som: Ja, navorsing speel 'n ontsaglike belangrike rol in my verhale, maar ek probeer altyd sorg dat dit nooit die narrative pull, die storie, oorskadu nie.

Een van die groot rolspelers in Boheem (al sterf sy vroeg in die verhaal) is Rose-Anne, 'n vrou wat self bekend geraak het as spanningsverhaalskrywer. Is daar iets van jou in haar? Hoe voel jy oor die stelling dat skrywers altyd "weg van hulleself" moet skryf?

A, Rose-Anne. Ek het haar nie geskep nie, sy het haarself geskep. Mens kry sulke karakters. Gys is ook een.

Maar jou vraag. Ek dink dis goed om so ver as moontlik "weg van jouself" te skryf, maar 'n skrywer moet aanvaar dat 'n storie, desondanks, meer van jouself sal verklap as wat jy graag sou wou hê. Ek glo nie 'n mens kan 'n waarlik oortuigende karakter skep sonder dat daar ietsie, hoe klein ook al, van jouself in die karakter deurskemer nie - selfs al is dit net 'n vorm van wensdenkery. En dit geld sowel protagonis as skurk. Daarom, miskien, kon ek 'n karakter soos Kobus nie 'n groot rol as mens laat speel nie en liewer net op sy dade konsentreer het. Hy het waarskynlik sy redes gehad, maar daar is niks in my wat hom kan vergewe vir wat hy gedoen het nie, waarskynlik omdat daar niks in my is wat met hom of sy psige ooreenstem nie.

In Rose-Anne se geval is daardie "ietsie" nie juis die feit dat sy spanningsromans skryf nie, maar dat ek wens ek kon - net soms - so eerlik en reguit wees soos sy. Ek wil regtig nie so naar wees soos sy op haar "beste" is nie, maar om net so af en toe 'n verbale dwarsklap in te kry as iemand dit verdien, moet bevrydend wees.

Wat vir my lekker was van Rose-Anne, is dat alhoewel sy die takt en diplomasie van 'n ertjie het, sy nie haar uitsprake bloot uit gemeenheid maak nie. Sy is meesal in die kol, hoe kras die opinie ook al is en hoe ontaktvol sy dit ook al oordra.

Die verwysings na die skryfproses wat nou en dan deurslaan in haar gesprekke met haarself, is iets waardeur ek vermoed enige skrywer gaan; dis dus nie werklik outobiografies nie.

Boheem het 'n interessante tema: 'n vrou wat haar onskuld aan moord moet bewys nadat sy jare vroeër óók van moord beskuldig en "op 'n tegniese punt" vrygespreek is. Waar het jy die inspirasie vir hierdie verhaal gekry?

Ek het die eerste weergawe klaar geskryf voor ek agtergekom het dat skuld en onskuld 'n inherente tema is en dat die storie impliseer dat skuld en onskuld nie noodwendig gaan oor wie wat gedoen het nie, maar dikwels oor die opinie wat in die gemeenskap gehandhaaf word. En nie net in die gemeenskap nie, maar ook in die binnekamers van die hart. Een van die karakters voel byvoorbeeld skuldig daaraan dat die tweede moord plaasgevind het. Hy was dalk nie skuldig nie, maar was hy ónskuldig?

Eers toe ek raakgesien het dat daar 'n skuld-onskuld-tema was, kon ek dit in daardie allerbelangrikste finale fase van 'n manuskrip, die redigeringsproses, 'n bietjie meer tot sy reg laat kom het.

Agterna beskou wonder ek of die Lotz-moordsaak nie die inspirasie was nie. Die gewik en weeg onder die publiek oor die skuld van 'n man wat voor die reg vrygespreek is. Die getuienis wat in die oë van die publiek nie dié kant toe of daardie kant toe klop nie. Maar as dit die inspirasie was, was dit nie iets wat ek vooraf besluit het nie. Dit het waarskynlik net van die onderbewussyn af opgeborrel.

Die gemiddelde oplaag vir "hogere" literêre werke en digbundels in Afrikaans is maar klein (sowat 300 eksemplare vir 'n digbundel). Uitgewers bestee gewoonlik heelwat geld en doen baie moeite om dié oplagies uitverkoop te kry, dikwels vergeefs. Ontspanningsverhale, daarenteen, moet hullesélf verkoop en kry nie dieselfde blootstelling as byvoorbeeld digbundels nie. Hoe voel jy hieroor?

Ergerlik, maar nie smoorkwaad nie. Dié soort voorkeurbehandeling spreek van elitisme en die leser word nie geag nie. Dis met goeie rede dat daar net oplae van 300 gedruk kan word. Dit dui daarop dat daar hoogstens 300 moontlike kopers is, met net 'n bietjie meer lesers as 'n mens biblioteke en boekklubs in ag neem. Lig daardie 300 kopers in oor die werk, gee dit gepaste blootstelling, ja, maar nie ten koste van ander genres wat dit juis moontlik maak om digbundels te druk nie. Dit geld nie net digbundels nie, maar dikwels literêre prosa ook.

Dit maak ook nie vir my besigheidsin nie. As dieselfde geld bestee en blootstelling gegee word aan 'n boek wat sonder blootstelling 'n hele paar duisend kopieë verkoop, dink net hoe goed kan dit doen as dit behoorlik onder die lesers se aandag gebring word.

Ek dink egter nie dis die uitgewer per se wat die wortel van die kwaad is nie. My ondervinding met my uitgewers spesifiek is dat hulle moeite doen met al hulle boeke. Hulle loop hulle egter allerweë vas met die media wat ontspanningsfiksie betref. Ek skiet myself dalk nou in die voet, maar ek lê die skuld hoofsaaklik voor die deur van elitistiese boekebladredakteurs wat by uitstek konsentreer op literêre publikasies en hulle merendeels afvee aan enigiets wat na ontspanning lyk. Selfs wanneer daar wonder bo wonder wel 'n resensie van 'n ontspanningsroman is, word dié veels te dikwels oorgelaat aan 'n resensent wat nie genre-kundig is nie.

'n Goeie voorbeeld daarvan was 'n resensie in 'n vrouetydskrif oor Sophia Kapp se liefdesroman Die tuiskoms. Dit was vir my duidelik dat die resensent die genre nie eens begín begryp het nie. Dis logies dat resensente nie almal ewe kundig is oor sekere genres nie. Maar dêmmit, dan moet iemand wat niks van liefdesromans weet nie, nie 'n Sophia Kapp-boek probeer resenseer nie.

Om "ligter" werk te skryf verg net soveel inspanning, harde werk en vernuf as literêre werk. Is daar enigiets wat ontspanningskrywers sélf kan doen om die erkenning te kry wat hulle dalk verdien ... afgesien daarvan om bloot aan te hou skryf?

Ek wens ek het geweet. Dis al asof my sporadiese gekyf op LitNet en elders, asook voorsprake wat mense soos onder meer Maritha Snyman in die pers gedoen het, uiteindelik tog 'n paar oë laat oopgaan het. Gesprekke soos die een oor romantiese fiksie waaraan ons deelgeneem het op die Woordfees, help ook om onkunde teë te werk (maar mens moet natuurlik eers genooi word)

Die effek bly egter beperk. En mens vra jou af: Wat is nou eintlik my taak? Om te skryf of om onkunde te probeer teenwerk? Om my karakters tot hulle reg te laat kom in my storie of om blootstelling vir my boek te probeer kry? Want uiteindelik gaan dit weer eens oor blootstelling eerder as erkenning. As mens ingeligte blootstelling kry, sal erkenning volg of nie volg nie, afhangende van hoe goed jy jou van jou skryftaak kwyt.

Uiteindelik dink ek die belangrikste is dat ons as ontspanningsromanskrywers aanhoudend aan ons skryfwerk slyp, werklik erns daarmee maak en ja, aanhou skryf - al voel dit later asof Sisufos se probleme in Tartarus 'n vulletjie teen joune is.

Verder probeer ek die snobisme en onkunde ignoreer en my beste moontlike werk te lewer vir mense wat wel my boeke lees en dit geniet. Ek skryf my stories vir húlle, nie vir resensente of boekebladredakteurs of elitiste of wie ook al anders nie.