Om Hannetjie se nakomeling te wees, is ook nie vir sissies nie.
Dit was ʼn bose dag toe die vier Calitz-vroue Maanschijnbaai in ʼn pienk Cadillac binnegery en die kasarm in ʼn stuk kitsch begin omskep het.
Almal weet teen die tyd hulle is slette, maar nou is daar selfs sprake hulle kan toor. Kyk hoe het Sue vir arme Zach betower, en Jo vir Saul. Ook die geliefde dominee Gideon het handomkeer ʼn ander mens geword. Het dit iets te doen met Nan se magte wat sy moontlik by haar pa geërf het? Of dalk met Jeannie se betrokkenheid by daardie sekte? Hoekom anders het die oulike Ieg op vlug geslaan? En nou wil Jeannie nog boonop ʼn restaurant oopmaak en toorkos bedien.
So skinder die M-baaiers, maar die Calitze weet: Hulle is nie net Casper se erfgename nie. Hulle deel Hannetjie se gene ook. Dié keer is dit Nan en Jeannie se beurt om daarmee te probeer saamleef.
Maanschijnbaai: Nan en Jeannie is die opvolg van Maanschijnbaai: Jo en Sue en sluit die Calitz-vroue se verhaal af.