Vorige nuusbriewe:
Maart 2017
Liewe lesers Toe ek op die ikoon klik om my nuwe manuskrip na die redigeerder te stuur, was die verligting groot. Die versoeking om, ná maande se baie intensiewe werk aan drie verskillende manuskripte, sommer net op ʼn hoop te gaan sit en niks te doen nie, was amper netso groot. En toe dink ek hoe lanklaas ek met julle gesels het en besluit basta met niksdoenery. Soos my ouma altyd gesê het: Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Hieronder ʼn paar nuusbrokkies. Pasella Die Pasella-span het verlede jaar by my in my skryfhuis kom kuier. Ons het oor my boeke gepraat, maar ook oor spookstories uit die Agulhas-omgewing. Die program word vanaand, Woensdag 29 Maart, om 19h30 op SABC2 uitgesaai. Leserskring Dit was vir my ʼn yslike eer toe Leserskring my gekontak en gevra het of hulle vir my kan kom kuier en foto’s te neem vir die voorblad en ʼn artikel in die Leserskring Katalogus. Die katalogus is hier te siene http://www.leserskring.com/download/LK_Jan_2017/ En die artikel, hier: http://www.leserskring.com/download/LK_Jan_2017/#6 Die Offer-tweeluik asook die volledige Gys Niemand-reeks is teen ʼn spesiale prys daar beskikbaar. En as jy twee boeke koop, kry jy nog verder afslag. Twee boeke teen R380! Sjoe, ek hoop ek kry nog tantieme! ☺ Vir hierdie aanbod, gaan loer by http://www.leserskring.com/index.php/chanette-paul-boeke/ Sacrificed: Ek kan dit amper nie glo nie, maar Offerlam se Engelse vertaling, Sacrificed, is tans by die drukkers. Dit verskyn hier in Suid-Afrika in April – dus oor net ʼn paar weke – en in die VSA in September. Die Suid-Afrikaanse omslag slaan ʼn heel ander rigting in as die Afrikaanse omslag, maar ek is mal daaroor! Snaaks genoeg het die VSA-mense besluit om by dieselfde omslag as die Afrikaanse Offerlam te hou. Waarmee ek geen probleem het nie, dis ook vir my pragtig. My senuwees is nogal rou oor hoe Caz en haar dinge deur ʼn hele nuwe gehoor ervaar gaan word – hier en in die VSA. Hou maar asseblief saam met my duim vas! Offerande (Nederlands): Toevallig is die Nederlandse Offerande ook tans by die drukkers en dié verskyn in Mei. Ek was destyds met Offerlam baie gekant teen die omslag waarop die Belgiese uitgewery besluit het. Ek het gevoel dit gee nie gevoel en inhoud van die boek weer nie. Toe die uitgewers vir my ʼn omslag vir Offerande stuur wat inskakel by Offerlam sʼn, was ek gevolglik bitter ongelukkig. Ná weke se gepieker het ek besluit om die bul by die horings te pak en te laat blyk hoe ek voel. Ek het gevra of daar nie enige moontlikheid is dat ons dalk ʼn ander omslag kan laat maak nie. Een met ʼn vrou op. Jy kon my met ʼn veer omtik toe hulle instem en kort daarna vir my vyf nuwe konsepte stuur. Twee daarvan was vir my bitter mooi. Die een waarop hulle uiteindelik besluit het, was my tweede keuse, maar ek is steeds in die sewende hemel. En toe kry ek nóg goeie nuus. Offerande gaan op 24 Mei bekendgestel word in Fort Lillo net buite Antwerpen – ja, die dorpie waar die krisistoneel afspeel! – en die uitgewers wil my daar hê. Blom het besluit hy gaan dié keer saam en nou vlieg ons 22 Mei Brussel toe. En net so terloops, die Nederlandse Offerlam is einde verlede jaar aangewys as die naaswenner van die Thrillzone Awards 2016 in die kategorie Debuutskrywer. Paaiboelie Soos ek hierbo gesê het, is Paaiboelie tans by die redigeerder. Sodra dit van haar af terugkom, moet ek deur die geredigeerde teks gaan voor dit na die setter gaan. Daarna kry ek die stel bladproewe wat vir my die laaste geleentheid bied om hier en daar te verander – hoofsaaklik taalgoed, setfoute en dies meer. Tussenin sal die omslagontwerpers ook hulle ding doen. Maar vir alle praktiese doeleindes, is Paaiboelie in kanne en kruike en verskyn in Augustus. Ek het veral met die laaste twee keer se deurgaan bloedgesweet. Dit was vir my moeilik om ná die Offer-tweeluik weer ʼn Jojo Richter-boek te skryf. Ek dink sy was half vies dat ek haar vir amper drie jaar eenkant toe geskuif het. ☺ Maar ek en Jojo is nou weer tjommies en ek hoop om binnekort aan nog ʼn Jojo-boek te begin skryf. Moontlik haar laaste, maar ek sal moet sien hoe sy daaroor voel. Vir nuwe lesers: Jojo Richter het al haar draai gemaak in Siende Blind, Raaiselspieël en Ewebeeld. Woordfees en ander lekkertes Die Woordfees is altyd vir my een van die hoogtepunte van die jaar. Hierdie jaar was ek deel van twee heerlike paneelbesprekings. Die eerste een was “Vroue skeer weer beenhare” saam met Kristel Loots en Alta Cloete en die gesprek is gelei deur Sophia Kapp. Mens kan hier na die gesprek luister: http://iono.fm/e/394242 Die tweede een was “Spanning met ’n rooi hart” saam met Isa Konrad en Madelein Rust. Ons was in gesprek met Madri van der Walt. Hier is ʼn opname van die gesprek: http://iono.fm/e/394534?autoplay=1 Elkeen was spesiaal op sy eie manier en ek het albei terdeë geniet. Dit was veral lekker om vir Isa Konrad uiteindelik te ontmoet. Sy het al die pad gekom van Switserland waar sy woon. Ek het ook die voorreg gehad om in Februarie saam met Izak de Vries by Kelvin Grove met die plaaslike leeskring te gesels asook op my eie in Stellenbosch met die Tussen-die-lyne Leeskring. Albei was wonderlike geleenthede. Nader aan die huis het ek ook onlangs by die Gansbaai Leeskring gaan gesels. Wat ʼn lekkerte! Lekkertes wat kom: KKNK: Ek sien baie daarna uit om weer ʼn verhoog met Deon Meyer te deel. 9 April 14:00 - Gratis | 60 min. | ATKV-Boeke-oase Boekgesprek Met Chanette Paul en Deon Meyer saam met Tertius Kapp (gespreksleier) Afrikaans het die afgelope jare ’n ongekende oplewing van misdaadromans en spanningsfiksie beleef. Paul en Meyer se boeke is topverkopers, en dis asof lesers net nie genoeg kan kry van donker verhale oor bedrog, moord en vergelding nie. Het ons die kruin van die golf bereik? Is daar nog iets nuuts te vertel? Is Afrikaanse lesers naby die versadigingspunt van misdaadverhale? Of is ons aanbod so uitstekend dat méér misdaadskrywers nou die internasionale mark gaan betree? Sien: http://kknk.co.za/dagprogram/misdaadskrywers-op-die-kruin-van-die-golf/ Bloemfontein se Vryfees: Ons gaan seker weer bibber, maar dis altyd ʼn voorreg om na die Vryfees genooi te word! 17 Julie 13:30 – ATKV-Boeke-Oase (Hoofsaal) Chanette Paul, Martin Steyn, Dibi Breytenbach & Jono Amid (gespreksleier/facilitator) Spanningsverhale - Die skrywers agter die skerms / Suspense stories – The writers behind the scenes. Dit is ’n genre waarin miljoene boeke per jaar verkoop. Die lesers is dus uiters krities. Hoe weet ons skrywers wat werk, of nie? Hoe hanteer hulle die druk? Kom ontmoet drie kenners. Windhoek Woordfees: Ek voel sommer baie bevoorreg dat ek uitgenooi is om by hierdie fees te gaan gesels oor die Offer-tweeluik. Die fees duur van 28 – 30 Julie, maar ek is nog nie seker op watter dag ek optree nie. Worcester: Voorlopig 5 Augustus by Protea Boekhandel. Ons hoop dat Paaiboelie betyds van die drukkers af sal wees vir haar heel eerste bekendstelling hier. Die Gys Niemand-reeks: Al vyf die Gyse is nou beskikbaar en ek dink die omslae is pragtig! Twee lekker resensies het in die dagblaaie verskyn. Een oor Springgety en oor Dryfhout. Die Springgety-resensie het nie op digitale media verskyn nie, maar die Dryfhout resensie kan hier gelees word: http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/paul-knoop-al-die-drade-styf-vas-20170214 Baie dankie weer eens vir julle terugvoer, die hou-vans, plasings en kommentare op Facebook, die sterretjies op Goodreads (https://www.goodreads.com/), amazon en elders, julle deelname aan my blog, reaksie op die nuusbriewe en al die e-briefies. Maar veral dankie dat julle my boeke lees. Geniet die pragtige herfsdae! Mooiste wense |