Illustration of Mermaid

Springgety deur Chanette Paul

Titel: Springgety
Taal: Afrikaans
Skrywer: Chanette Paul
Aantal bladsye: 558
ISBN: 9780799338775
Kategorie: Spanningsroman
Verskyningsdatum: Oktober 2007
Uitgewer: Lapa Uitgewers

Chanette Paul se spanningsroman, Springgety vul ’n belangrike leemte in Afrikaans. Die afgelope twee dekades het daar maar min boeke in dié onderafdeling van die misdaad-genre in Afrikaanse verskyn.

Die verhaal speel af op Kruisbaai, ’n plek wat speurder-sersant Gys Niemand die rillings gee.  Veral Springklip, waar vier kruise geplant is vir slagoffers van dié krans wat waghou oor die buierige see.

Lily Reynecke weet feitlik niks van Kruisbaai of Springklip toe sy daar aankom nie.  Pas uit ʼn senukliniek nadat haar miserabele jeug, haar egskeiding en haar tante se tragiese dood vir haar te veel geword het, is die Visvrou, die strandhuisie wat sy van Maja geërf het, haar enigste toevlug.
In Kruisbaai loop stories dik en dit word gou duidelik dat Maja geen geringe rol in die geskiedenis van die stranddorpie gespeel het nie.  Lily het egter skaars tyd om haar te vergewis van Kruisbaai se verlede en sy vreemde inwoners, voor haar gewese man daar aankom.  Kort na hulle stormagtige gesprek, verdwyn Fritz en Lily word verdink van gemene spel.

Teen wil en dank word Lily die katalisator waardeur Kruisbaai se donker verlede onthul word, maar die geheime word nie opgeklaar voordat sy bo-op Springklip ʼn moordenaar in die oë staar nie.

Die boeiende storielyn en interessante karakters het genoeg kinkels om die leser aan die raai te hou tot aan die einde.

Springgety is die eerste van ʼn beoogde vyftal spanningsromans waarin die speurders Gys Niemand en Faantjie Fortuin hulle speurvernuf toets.  Die tweede, Fortuin, is inOktober 2008 gepubliseer en die derde het in Julie 2009 verskyn. 
Meetsnoer, die vierde, is geskeduleer vir Oktober 2010. Chanette is reeds besig om aan die vyfde en laaste boek in die reeks te skryf. Die vyf boeke sal uiteindelik ʼn geheel vorm waarin sowel Gys Niemand se storie, as die legende van Kruisbaai se visvrou afgesluit word.