


Vrae wat dikwels gevra word
Wanneer het jy begin skryf?
Vandat ek woorde uit letters kon maak, maar lank voor dit het ek reeds my eie stories opgemaak. Ek het in standerd 2 (graad vier) my eerste storieboek begin waarin ek vir myself stories geskryf het. Een van my stories is op Siembamba voorgelees toe ek sestien was. En op universiteit het Willemien kortverhaal in die Huisgenoot verskyn. Magdomstories in die 20 jaar daarna, het nooit klaargekom nie en/of in snippermandjies beland. In 1995 het ek al my moed bymekaar geskraap en amptelik begin skryf.
Hoekom skryf jy?
Om dieselfde rede dat ek asemhaal. Ek kan nie anders nie. Ter wille van oorlewing – op meer as een vlak. Ek dink ook ek skryf om sin te maak van dinge.
Hoe het jy dit reggekry om tot dusver 33 boeke in 15 jaar te skryf?
Skryf is my werk én my passie. Buitendien, as ek wil weet hoe my storie gaan eindig moet ek hom klaarskryf. En ek het 20 jaar om voor op te maak!
Hoe lank skryf jy aan ʼn boek?
Dit hang heeltemal af van die soort boek. Ek het vir die Davel-reeks net twee maande per boek gehad.
Leila word lig het van konsepsie af vier jaar geneem om te skryf en Wip van die droomvanger twee jaar. Ek het egter ook 2-3 romanses per jaar geskryf terwyl ek met hulle besig was.
My nuwe boeke, die heelwat dikker spanningsromans, neem gemiddeld nege maande – ek glo nie dis toevallig nie ;-).
Raad aan enige voornemende skrywer?
Voor jy begin, moet jy een ding onthou: ‘skryf’ is ʼn werkwoord. Ek kan nie onthou wie dit eerste gesê het nie, maar ek kan die uitspraak heelhartig onderskryf.
Waar kom jou inspirasie vandaan?
Inspirasie is alomteenwoordig, maar dis feitlik onmoontlik om te sê waar ʼn storie vandaan kom. Vir my begin ʼn storie by die karakters. Hulle kom klop by my aan. Teen die tyd dat ek hulle beter begin verstaan, het die ruimte waarbinne die storie-gebeure gaan plaasvind gewoonlik reeds begin vorm aanneem. Daarna kom die storie so half vanself. Soos Stephen King gesê het, skrywers vra mekaar nooit waar hulle idees vandaan kom nie omdat ons weet dat nie een van ons die vaagste benul het nie. Ek sekondeer.
Skryf jy net as jy geïnspireerd is?
Pieter de Vries het gesê hy skryf net as hy geïnspireerd is en hy sorg dat hy elke oggend om negeuur geïnspireerd is.
Ek sorg dat die muse op die hoek van my lessenaar sit teen vyf, sesuur soggens en sy mag eers weer vyf, ses uur saans afklim. Daarna is sy op bystand.
Waar en wanneer skryf jy?
In my studeerkamer voor ʼn venster wat op die Kleinerivier uitkyk. Ek staan so skuins voor sonop op, afhangende van die seisoen, en werk in die week gemiddeld 12 ure per dag. Naweke probeer ek so teen elfuur soggens tjaila en ek neem so dan en wan ʼn hele Sondag af. Een, soms twee weke per maand moet ek afstaan aan manuskripontwikkeling wat ek vir Lapa Uitgewers doen.
Maar eintlik skryf ʼn mens 24/7. Jou kop los nooit heeltemal jou storie nie en in feitlik alles sien ʼn mens die moontlikheid van nog ʼn storie. Selfs wanneer jy uitgaan, sit jy en gesprekke afluister om te hoor hoe mense regtig praat, om emosies te probeer bepaal en gesigsuitdrukkings te ontleed. Alles omdat skryf, soos iemand eendag gesê het, ʼn “affliction” is.
Wie is jou gunsteling skrywers?
Vir ontspanning lees ek graag Jodi Picoult, Sandra Brown, Michael Connelly, Sue Grafton, Minette Walters, Mary Higgins-Clark en hulle geesgenote. Ek geniet ook Joanna Harris, Kate Atkinson en Sue Monk Kidd se boeke. In Afrikaans is ek lief vir Sophia Kapp, Wilna Adriaanse en Deon Meyer se boeke. Nuwe skrywers om dop te hou is onder meer Riana Mouton, Karin Brynard en Isa Konrad. Ek het baie van hulle debuut-romans gehou. Een van die lekkerste boeke wat ek in Afrikaans gelees het, is Jan van Tonder se Roepman. En ek het altyd baie gehou van Eleanor Baker se romans. Ek dink sy was geweldig onderskat as skrywer van toeganklike, goedgeskrewe boeke.
Watter een van jou eie boeke is jou gunsteling?
Altyd die volgende een wat in my kop broei. Van dié wat reeds verskyn het, is dit moeilik om een uit te sonder. Veral omdat ek in verskillende genres geskryf het.
Ek het dit baie geniet om die Davel-reeks te skryf. Elkeen van die Daveltjies het ʼn baie spesiale plekkie in my hart, maar veral Tamara en Deborah.
Dit sal baie moeilik wees om te sê watter een van my romanses my gunsteling is. Drie waaraan ek baie lekker geskryf het is Fynbos vir ʼn feeks, Toorliefde en Op soek na ʼn held.
Leila word lig val in heeltemal ʼn ander kader as die res van my werk. Ek het dit geskryf as deel van my MA-graad in Skeppende Skryfwerk. Dit was ʼn voorreg om onder prof. Etienne van Heerden te werk. Dis vir my ʼn baie spesiale boek.
Maar uiteindelik dink ek tog die Gys-boeke is tot dusver van my grootste gunstelinge.
Gaan Gys Niemand weer ʼn rol speel in jou volgende boek?
Ja, al was hy nie eens veronderstel om meer as ʼn vae polisieteenwoordigheid in Springgety te wees nie!
Dit gebeur soms dat ʼn karakter heel ongenooid ʼn verhaal binnedring. Speurder-sersant Gys Niemand is so ʼn karakter. Hy het hom doodluiters op ʼn dag kom aanmeld, maar uiteindelik het hy hom só in die verhaal, en in my hart, ingewurm dat ek in die herskrywing van Springgety ja, ek het die eerste weergawe heeltemal oorgeskryf - ook sy perspektief ingespan het. En dit het weer daartoe gelei dat hy in Fortuin, opgeduik het en daarna in Boheem.
Ek het pas Meetsnoer, die vierde boek in die reeks voltooi, en ja, Gys, Gertjie en Fortuintjie is weer daar.
In die vyfde boek, wat ek reeds besig is om te skryf, sal hulle stories afgerond word En die legende van die visvrou van Kruisbaai word hopelik ontrafel.
Ek het my hart behoorlik verloor op hierdie middeljarige speurder met sy bles, sy aansienlike boep en sy voorliefde vir paais wat sy maagseer opkeil. En Fortuintjie, die kiertsregop konstabel wat so graag skinderstories by sy sersant aandra, het eweneens Willemien baie sagte plek in my hart verwerf.
Die boeke hoef nie in volgorde gelees te word nie. Ek het hulle so probeer skryf dat hulle op eie bene staan. Elkeen van die boeke, het nuwe hoofkarakters wat die liefde vind, net mooi wanneer hulle die minste verwag en dit hulle die minste pas. Elke keer in Willemien gevaarsituasie.
Waarom duik meerminne so gereeld op in jou boeke?
Daar word gesê dat mites die DNA van die siel is en as dit so is, is die meermin-mite die DNA van die vrouesiel. Wat natuurlik ironies is, want volgens legende het meerminne nie siele nie. Hulle het nie een nodig nie omdat hulle nie sterflik is nie. Wanneer hulle egter met ʼn sterweling trou, verwerf hulle ʼn siel, wat hulle dan wel deeglik nodig het omdat hulle ook sterflik word wanneer hulle die see vir land verruil.
Die meermin ʼn ontsaglik interessante argetipe en by uitstek die simbool van die vrou in haar oer-vorm. Sy is mens, maar ook nie heeltemal mens nie. Vis, maar nie volkome vis nie. Sy is ’n oerwese vasgevang tussen die waters van die onbewuste en die land van die bewuste wat ʼn onderlyf en die vermoë om te kan asemhaal, verg. Sy het immer die hunkering na ’n maat – een wat haar dikwels nie verstaan nie, maar sonder wie sy self nie heel voel nie.
Wat ek in Springgety probeer sê, is dat sy nie noodwendig haar meerminskap hoef te op te offer nie, maar juis kan vind, as sy by ’n man uitkom wat haar volle vrou-wees, insluitende haar vis-wees, verstaan en respekteer.
In Fortuin probeer ek weer sê dat ʼn vrou haar eie meerminskap moet ontdek en leer verstaan. Sy moet verstaan dat sy haar viswees nie moet ontken nie.
In Boheem besef Kayla dat sy eers haar viswees moet deurgrond voor sy kan wees wie sy bedoel is om te wees. Dis dus ’n soort progressie wat plaasvind deur die boeke.
Die onderbou kan die boeke vir sekere lesers verryk, maar as simboliek en mitologie nie jou ding is nie, gaan dit geen verskil maak aan jou leeservaring nie. Uiteindelik is die storie die belangrikste. Ek dink die onderbou werk in op die kollektiewe geheue, met of sonder kennis van dinge soos meerminne ensomeer.
Wat is die Davel-reeks?
Die Davel-reeks is sewe historiese romanses wat op mekaar volg en sodoende ʼn familie-sage word. Die verhale speel af tussen 1899 en 1938. In elkeen van die boeke word een Davel-vrou uitgesonder as die heldin en word ʼn tydperk en geskiedkundige kwessie in die storie aangespreek.
Hoe het dit gebeur dat jy die Davel-reeks geskryf het?
Ek het nooit die Davel-vroue vooraf as reeks gekonsepsualiseer nie. As ek van die begin af geweet het ek gaan sewe historiese romanses skryf wat boonop op mekaar volg en ses daarvan in ʼn jaar sou skryf, het ek, soos Fleur se ma, na my vlugsout gegryp en met ʼn asynlappie op die voorkop in ʼn skemer kamer gaan lê.
Dit het alles tien jaar gelede begin op die vooraand van die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog toe ek destyds gevra is om ʼn romanse te skryf met die Anglo-Boereoorlog as agtergrond.
Die gevolg was Bittersoet Wals wat in 2005 heruitgegee is as Tamara. Met die heruitgawe het ek begin wonder wat geword het van Tamara se niggietjie wat saam met haar in die konsentrasiekamp was en aan Willemien begin skryf. Wat weer daartoe gelei het dat ek begin wonder het oor Tamara se dogters, Annabella en Deborah. Die res is … wel … geskiedenis.
Sien ook Die Davel-reeks.
Ek kan nie die Davel-boeke te koop kry nie?
Die reeks is ongelukkig tans uitverkoop, maar hou die webwerf en veral my blog Chanette Paul se Blog dop vir nuus.
Kan ons nog ʼn boek in die Davel-reeks verwag?
Nee, die Daveltjies se storie is afgerond. Ek het soms gewonder wat met Pippa, Deborah se dogter, gebeur het, maar my nie laat verlei om haar storie te skryf nie.
Is daar nog ʼn ernstiger boek soos Leila word lig in die pyplyn?
Ek beplan nie een nie, maar ek wil ook nie sê nooit nie. Mens weet nie hoe die Muse mens in die toekoms gaan lei nie. Ek sal dus volstaan met: Nie binne die afsienbare toekoms nie.
Gaan jy weer romanses skryf?
Ek glo nie, maar ʼn mens weet nooit nie.
Wanneer kom jou volgende spanningsroman uit?
In Oktober 2010. Die titel is Meetsnoer en dit sluit aan by Springgety, Fortuin en Boheem. Dit speel grotendeels af in ’n stukkie oerbos wat naby Niemandsdorp behoue gebly het. Gys en Fortuintjie maak natuurlik weer hulle opwagting. Ek het reeds begin skryf aan die vyfde en laaste Gys-boek. Hou weer eens my blog Chanette Paul se Blog dop. Binnekort behoort ek ʼn voorsmakie van die omslag daar te kan gee.
Kom daar nog ʼn omnibus?
Die vierde omnibus het in Desember 2009 verskyn. Fynbos vir ʼn feeks, Toorliefde en Perlemoenmaan is hierin vervat.
Voorlopig is daar nie nog ʼn omnibus op die horison nie.
Daar het egter ʼn tweede duet in Mei 2010 verskyn. Die titel is Onder Seespieël en my heel eerste romanse, Maalstoom van ekstase asook my derde, Leerskool van liefde, is daarin opgeneem. Albei het skubaduik as tema.
Wat is ʼn Duet?
Dis iets soos ’n omnibus, maar bevat twee - pleks van drie - verhale wat reeds voorheen verskyn het in een band. Branders van liefde wat in Mei 2009 uitgekom het, was die eerste en die twee romantiese komedies Op soek na ʼn held en Porselein van staal is daarin vervat. Die tweede het in Mei 2010 verskyn (sien hierbo).
Wat kom na die Gys-boeke?
Dit, my liewe wonderlike leser, is voorlopig ʼn geheim! Maar solank julle my boeke geniet, sal ek nie ophou skryf nie.


