Chanette Paul skryf nog ’n nuwe kategorie in Afrikaans oop
“Chanette Paul het reeds met haar Gys Niemand-reeks ’n nuwe genre in Afrikaans aangedurf deur liefde en spanning saam te span. Met Maanschijnbaai-tweeluik verras sy haar lesers opnuut met ’n splinternuwe kategorie wat sy by haar oeuvre kan voeg, ’n familiedrama. Die tweeluik bevat drama, romanse, spanning, humor en sosiale kritiek. Die intrige draai om verhoudings op alle vlakke asook oor oordeel, vooroordeel, en die keuses wat mens maak.”
-Jeanette Ferreira.
Ontmoet die Calitze:
Vier vroue met uiteenlopende geaardhede, elkeen in ʼn ander lewensfase, elkeen met haar eie geite en sondes, en elkeen het ʼn verlede met ʼn hoofletter V.
-Jeanette Ferreira.
Ontmoet die Calitze:
Vier vroue met uiteenlopende geaardhede, elkeen in ʼn ander lewensfase, elkeen met haar eie geite en sondes, en elkeen het ʼn verlede met ʼn hoofletter V.
![]() Maanschijnbaai: Jo & Sue
Om Casper se erfgenaam te wees, is nie vir sissies nie. Die mense van Maanschijnbaai sit behoorlik regop toe hierdie vier Calitz-vroue die kusdorpie in oorlede Casper se pienk Cadillac binnevaar. Die Cadillac is egter nie al wat hulle geërf het nie, en dis by die ander erflating waar die knoop lê. Die meeste Maanschijnbaaiers glo Casper se kasarm moet platgeslaan word, maar vir die Calitze kan dit dalk net uitkoms bied. As hulle die kasarm leefbaar kan maak, kan Casper se nalatenskap hulle in staat stel om van die onlangse verlede te vlug. Jo kan probeer om ʼn verhouding wat haar in geldelike en emosionele nood gelaat het te verwerk. Sue kan ontsnap van haar eks-lovers wat sy deesdae om elke hoek en draai raakloop. Nan kan oor die skok kom dat sy na dertig jaar afgelê is van haar werk. En Jeannie kan probeer wegkom van die houvas wat ʼn geloofsgroep op haar het. Maar op Maanschijnbaai haal die verre verlede hulle juis in. Want daar is iemand wat reken Casper se erfenis kom die Calitz-slette nie toe nie. Maanschijnbaai – Jo en Sue is die eerste boek in ʼn tweeluik en word opgevolg deur Maanschijnbaai – Nan en Jeannie. Voorlesing uit Jo & Sue by SASNEV-geleentheid: http://www.youtube.com/watch?feature=player_embedded&v=6SKdcJBABzg |
![]() Maanschijnbaai: Nan en Jeannie
Om Hannetjie se nakomeling te wees, is ook nie vir sissies nie. Dit was ʼn bose dag toe die vier Calitz-vroue Maanschijnbaai in ʼn pienk Cadillac binnegery en die kasarm in ʼn stuk kitsch begin omskep het. Almal weet teen die tyd hulle is slette, maar nou is daar selfs sprake hulle kan toor. Kyk hoe het Sue vir arme Zach betower, en Jo vir Saul. Ook die geliefde dominee Gideon het handomkeer ʼn ander mens geword. Het dit iets te doen met Nan se magte wat sy moontlik by haar pa geërf het? Of dalk met Jeannie se betrokkenheid by daardie sekte? Hoekom anders het die oulike Ieg op vlug geslaan? En nou wil Jeannie nog boonop ʼn restaurant oopmaak en toorkos bedien. So skinder die M-baaiers, maar die Calitze weet: Hulle is nie net Casper se erfgename nie. Hulle deel Hannetjie se gene ook. Dié keer is dit Nan en Jeannie se beurt om daarmee te probeer saamleef. Maanschijnbaai: Nan en Jeannie is die opvolg van Maanschijnbaai: Jo en Sue en sluit die Calitz-vroue se verhaal af. |
Chanette oor die Maanschijnbaai-tweeluik:
Ek was nog nooit goed met beplanning nie. Selfs die kere wat ek wel probeer beplan, neem die storie en die karakters maar grotendeels hulle eie loop. Die tweeluik is seker die grootste getuigskrif daarvan. Ek wou ʼn blaaskans van moorde neem. Ek was vier jaar met die Gys Niemand-reeks bedrywig en wou weg breek uit die patroon. Daar was wel ʼn spanningsroman wat in my agterkop gebroei het, maar ek was bang Gys gaan weer die storie kaap of dat ek net maar nog ‘n soortgelyke karakter of storie gaan skep. Dis toe dat ek besluit het om ʼn romanse te skryf, net om my kop weer oop te kry voor ek die spanningsroman aanpak. Ek het my karakters begin identifiseer en moontlike konflikpunte te bedink. Dis toe waarmee ek vorendag kom: Jo, haar buite-egtelike dogter, Jeannie, en haar ma, Nan, beland op ʼn dorpie waar daar enersyds kunstenaars en andersyds afgetrede predikante woon. Jo raak verlief op ʼn predikant se seun, maar die kwessie van die buite-egtelike dogter lol. Haar ma help agter die skerms om struikelblokke uit die weg te ruim en uiteindelik leef almal vir altyd en ewig gelukkig saam. Piece of cake? Dit kon gewees het, maar toe kom Sue aangestoom een aand terwyl ek veronderstel was om uie te skil vir ʼn bredie wat Blom aan die maak was. Sue het my onomwonde laat verstaan sy is ook deel van die storie. Ek sê vir haar sy rook en sy drink en sy swets en dit kan nie vir ʼn romanse werk nie. Sy weier egter om uit die storie gegooi te word en toe sit ek met haar. En ʼn heel ander storie. Blom moes toe uiteindelik die uie skil en die “romanse” het ʼn tweeluik van ver oor die duisend bladsye geword. Dit was nog altyd my ferm voorneme om selfs as ek ʼn reeks skryf, dit so te doen dat die boeke buite volgorde gelees kan word. Te sorg dat elkeen ʼn afgeronde geheel is. Met die Maanschijnbaai-tweeluik, moet ek helaas bieg, het ek jammerlik gefaal. Die twee boeke moet in volgorde gelees word om dit ten volle te kan waardeer. Elkeen staan in ʼn groot mate afsonderlik van die ander, maar as mens Nan & Jeannie eerste sou lees, gaan dit al jou pret in Jo & Sue bederf. Ek vra uit die diepte van hart om verskoning, maar dit was die girls se skuld, nie myne nie. |